Spektrum Kinderteater > Nuus > Allerlei > Welkom by Spektrum Kinderteater

Welkom by Spektrum Kinderteater

http://kinderteater.co.za/blog/2012/06/24/welkom-by-spektrum-kinderteater/

Die jaar is halfpad en dinge is woeliger as ooit in die Spektrum-kamp met 11 verskillende teaterproduksies om van te kies.

Die drie produksies wat hierdie jaar bygekom het, is Tjiff en Tjaff, Bazoo en die vermiste spookpaddas en Poppie en Bongo.

Die sprokies is steeds immergewild by kinders van alle ouderdomme (jip, selfs die kinders bo 30) en Die Drie Varkies, Raponsie en Hansie en Grietjie is hierdie winter te sien by teaters in die Wes-Kaap.

Tjiff en Tjaff is die nuutste gunsteling aanbieding van Spektrum. In samewerking met Koowee, kan ons Kaapse maatjies nou hierdie groen mannetjies van nader ontmoet en saam met hulle sing en dans. Die volgende paar maande kuier Tjiff en Tjaff by teaters (sien skedule) en winkelsentrums en gaan hulle ook help om by Boston en Eversdal Laerskool fondse vir die skool in te samel. Kontak ons gerus as jy hulle na jou area toe ook wil nooi.

Die poppekasteater, Bazoo, is ook ‘n nuwe produksie wat die jongspan vermaak en bewus maak van ons mooi natuur en sy kleurvolle inwoners.

Die hond en koei-duo, Poppie en Bongo, is Spektrum se ‘cool kids’. Dis ‘n musiekproduksie in samewerking met komponis, Melissa van der Spuy en Sunset Studio se Jurgen von Wechmar. Die musiek is funky en die kinders sal mal wees oor die CD wat hiermee tesaam te koop is.

Met soveel opsies om van te kies, hoop ons om kinderteater vir almal se smaak te maak. Vir ‘n skamele R40 of R50 (wat ‘n kaartjie gewoonlik kos), bly dit ‘n grootse ervaring vir ‘n kind so trek die jassie aan en bring die kinders om saam met Spektrum te kom kuier hierdie winter.

My jaar lĂȘ verdeel tussen Stellenbosch en Johannesburg met die skryf en opname van kykNET se nuwe sitcom, Parys Parys, maar ek hoop om jou by die teater te sien. Ek het self al bg Spektrum produksies vele male gesien, maar kan steeds nog ‘n 100 keer daarna kyk – dis vir my een van die mooiste dinge om te sien hoe kinders hulself inleef by hierdie produksies.

More vat ek die pad Nelspruit toe saam met Albert Maritz en die res van die span (legendes soos Anna-Mart van der Merwe en Marion Holm) om Pieter Dirk Uys se toneelstuk, Die Van Aardes van Grootoor, by die Innibos Kunstefees te doen. Sien julle daarna by die Somerset Mall saam met Tjiff en Tjaff.

Geniet die wintervakansie!